1 Samuel 25:5-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. stuur Dawid tien jongmanne, en Dawid sê aan die jongmanne: Trek op na Karmel en gaan by Nabal in en vra hom in my naam na die welstand;

6. en so moet julle aan die welvarende sê: Mag dit goed gaan met u sowel as met u huis, en goed gaan met alles wat u besit.

7. En nou, ek het gehoor dat u skeerders het; nou ja, u wagters was met ons saam; ons het hulle nie beledig nie, en hulle het ook niks vermis al die dae wat hulle in Karmel was nie.

8. Vra u dienaars, en hulle sal u dit te kenne gee; laat dus die jongmanne guns vind in u oë, want ons het op ’n vrolike dag gekom; gee tog wat u byderhand het aan u dienaars en aan u seun Dawid.

9. Toe het die jongmanne van Dawid gekom en met Nabal in naam van Dawid volgens al hierdie woorde gespreek en verder afgewag.

10. Maar Nabal het die dienaars van Dawid geantwoord en gesê: Wie is Dawid? En wie is die seun van Ísai? Daar is vandag baie dienaars wat hulle losskeur, elkeen van sy heer af.

11. Sou ek dan my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, neem en aan manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan kom nie?

12. Daarop het die jongmanne van Dawid omgedraai op hulle pad, hulle het teruggekeer en aangekom en hom berig gebring volgens al hierdie woorde.

13. Toe sê Dawid aan sy manne: Gord julle elkeen sy swaard aan! Hulle gord toe elkeen sy swaard aan — Dawid het ook sy swaard aangegord — en hulle trek agter Dawid op, omtrent vierhonderd man, terwyl tweehonderd by die pakgoed bly.

14. Maar aan Abígail, die vrou van Nabal, het een van die jongmanne berig gebring en gesê: Kyk, Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om ons heer te begroet, maar hy het teen hulle uitgevaar.

1 Samuel 25