1 Samuel 16:8-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Toe roep Ísai Abinádab en laat hom voor Samuel verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die Here ook nie uitgekies nie.

9. Verder het Ísai Samma laat verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die Here ook nie uitgekies nie.

10. So het Ísai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het aan Ísai gesê: Die Here het hulle nie uitgekies nie.

11. Verder het Samuel aan Ísai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Ísai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.

12. Daarop het hy gestuur en hom laat kom; en hy was rooierig, met mooi oë en ’n mooi voorkoms. En die Here sê: Staan op, salf hom, want dit is hy.

13. Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan.

14. MAAR die Gees van die Here het van Saul gewyk, en ’n bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik.

15. Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ’n bose gees van God verskrik u:

16. laat ons heer net sê, en u dienaars wat voor u staan, sal ’n man soek wat op die siter kan speel; en as die bose gees van God oor u is, moet hy speel met sy hand, dan sal dit beter met u word.

17. Daarop sê Saul aan sy dienaars: Kyk tog vir my uit na ’n man wat goed kan speel, en bring hom na my.

18. En een van die dienaars antwoord en sê: Kyk, ek het ’n seun van Ísai, die Betlehemiet, gesien wat kan speel, en hy is ’n dapper held en ’n krygsman en wel ter tale en mooi gebou, en die Here is met hom.

19. Toe het Saul boodskappers na Ísai gestuur en gesê: Stuur tog jou seun Dawid wat by die skape is, na my.

20. Ísai neem toe ’n esel, brood en ’n leersak met wyn en ’n bokkie en stuur dit met sy seun Dawid na Saul.

21. So het Dawid dan by Saul gekom en voor hom gestaan; en dié het hom baie liefgekry, sodat hy sy wapendraer geword het.

22. Daarna het Saul na Ísai gestuur om te sê: Laat Dawid tog voor my staan, want hy het guns in my oë gevind.

23. En net wanneer daar ’n gees van God oor Saul kom, neem Dawid die siter en speel met sy hand; dan voel Saul verlig en word beter, en die bose gees wyk van hom.

1 Samuel 16