13. Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Mag u geseënd wees deur die Here: ek het die woord van die Here uitgevoer.
14. Daarop vra Samuel: Maar wat vir ’n geblêr van kleinvee is dit in my ore en ’n gebulk van beeste wat ek hoor?
15. En Saul sê: Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die Here u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref.
16. Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die Here vannag met my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek.
17. En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die Here het jou as koning oor Israel gesalf.