4. En hulle sal jou na die welstand vra en sal jou twee brode gee; dit moet jy dan uit hulle hand aanneem.
5. Daarna sal jy kom by Gíbea van God waar die wagposte van die Filistyne is; en net soos jy daar die stad inkom, sal jy ’n groep profete ontmoet wat van die hoogte afkom, en voor hulle uit harpe en tamboeryne en fluite en siters, terwyl hulle self profeteer.
6. En die Gees van die Here sal oor jou vaardig word, sodat jy saam met hulle sal profeteer en in ’n ander mens verander word.
7. En as hierdie tekens vir jou uitkom, doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou.
8. En jy moet voor my uit na Gilgal afgaan, en kyk, ek sal na jou afkom om brandoffers te offer, om dankoffers te slag; sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou kom en jou bekend maak wat jy moet doen.