10. naamlik van die dae af dat Ek Rigters oor my volk Israel aangestel het; en Ek sal al jou vyande verneder. Daarom gee ek jou te kenne dat die Here vir jou ’n huis sal stig.
11. En as jou dae vol is om heen te gaan saam met jou vaders, sal Ek jou nakomeling wat uit jou seuns sal wees, laat optree en sy koningskap bevestig.
12. Hý sal vir My ’n huis bou, en Ek sal sy troon bevestig tot in ewigheid.
13. Ék sal vir hom ’n vader wees, en hý sal vir My ’n seun wees, en my goedertierenheid sal Ek van hom nie laat wyk soos Ek dit onttrek het aan hom wat voor jou gewees het nie.
14. Maar Ek sal hom laat bestaan in my huis en in my koninkryk tot in ewigheid, en sy troon sal vas staan tot in ewigheid.
15. Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie hele gesig, so het Natan met Dawid gespreek.
16. Toe het koning Dawid heengegaan en voor die aangesig van die Here gebly en gesê: Wie is ek, Here God, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het?
17. En dit was nog te gering in u oë, o God, sodat U aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek en my vorentoe as ’n reeks van mense gesien het, Here God!
18. Wat kan Dawid daar nog vir U byvoeg met die oog op die eer wat u kneg aangedoen is; en Ú ken u kneg.
19. Here, ter wille van u kneg en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen om al hierdie groot dinge bekend te maak.
20. Here, daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.
21. En wie is soos u volk Israel, ’n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as ’n volk gaan verlos het, om vir U ’n naam te maak deur groot en vreeslike dinge, deur voor u volk uit, wat U uit Egipte verlos het, nasies te verdrywe.
22. En U het u volk Israel vir U as ’n volk tot in ewigheid gemaak; en U, Here, U het vir hulle ’n God geword.
23. Laat dan nou, Here, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, tot in ewigheid waar gemaak word, en doen soos U gespreek het.