27. Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en blydskap is in sy woonplek.
28. Gee aan die Here, o geslagte van die volke, gee aan die Here eer en sterkte.
29. Gee aan die Here die eer van sy Naam, bring offers en kom voor sy aangesig, aanbid die Here in heilige gewaad.
30. Beef voor sy aangesig, o ganse aarde! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie.
31. Laat die hemele bly wees en die aarde juig, en laat hulle onder die volke sê: Die Here is Koning!
32. Laat die see en sy volheid bruis, laat die veld juig en al wat daarin is.
33. Dan sal die bome van die bos jubel voor die aangesig van die Here; want Hy kom om die aarde te oordeel.
34. Loof die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid;
35. en sê: Verlos ons, God van ons heil, en versamel ons en red ons van die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u lof!
36. Geloofd sy die Here, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En die hele volk het gesê: Amen! en: Prys die Here!
37. EN hy het daar voor die verbondsark van die Here Asaf en sy broers laat staan om gedurigdeur te dien voor die ark na die eis van elke dag;
38. en ook Obed-Edom met hulle broers, agt-en-sestig, en Obed-Edom, die seun van Jedútun, en Hosa as poortwagters;
39. maar Sadok, die priester, met sy broers, die priesters, voor die tabernakel van die Here, op die hoogte wat in Gíbeon is,
40. om gedurigdeur smôrens en saans op die brandofferaltaar brandoffers aan die Here te bring, en dit volgens alles wat geskrywe is in die wet van die Here wat Hy Israel beveel het;
41. en saam met hulle Heman en Jedútun en die ander uitgesoektes wat met hulle name aangewys was om die Here te loof dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is;
42. en by hulle, Heman en Jedútun, was trompette en simbale vir die musikante en instrumente vir die liedere tot eer van God; maar die seuns van Jedútun was by die poort.
43. En toe die hele volk elkeen na sy huis gegaan het, het Dawid omgedraai om sy huisgesin te seën.