3. En laat ons die ark van onse God na ons toe oorbring, want in die dae van Saul het ons daar nie na gevra nie.
4. Toe sê die hele vergadering dat hulle so moes doen, want die saak was reg in die oë van die hele volk.
5. En Dawid het die hele Israel versamel van die Sihor in Egipte af tot by die ingang na Hamat, om die ark van God uit Kirjat-Jeárim te gaan haal.
6. Daarna het Dawid met die hele Israel opgetrek na Báäla, na Kirjat-Jeárim wat aan Juda behoort, om daarvandaan op te bring die ark van God die Here wat op die gérubs troon, waaroor die Naam uitgeroep is.
7. En hulle het die ark van God op ’n nuwe wa vervoer uit die huis van Abinádab, en Ussa en Agjo het die wa gedrywe.
8. En Dawid en die hele Israel het voor die aangesig van God met alle mag gespeel, sowel met liedere as met siters en harpe en tamboeryne en simbale en trompette.