1 Konings 8:5-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En terwyl koning Salomo en die hele by hom vergaderde gemeente van Israel saam met hom voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of bereken kon word nie.

6. Verder het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek gebring, in die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, onder die vlerke van die gérubs in.

7. Want die gérubs het die vlerke uitgesprei oor die plek van die ark, sodat die gérubs die ark en sy draaghoute van bo af beskut het.

8. En die draaghoute was so lank, dat die punte van die draaghoute uit die Heilige, vlak voor die binneste vertrek, gesien kon word, maar verder buitentoe was hulle nie sigbaar nie; en hulle is daar tot vandag toe.

9. Daar was niks in die ark nie as net die twee kliptafels wat Moses by Horeb daarin neergelê het, toe die Here ’n verbond met die kinders van Israel gesluit het by hulle uittog uit Egipteland.

10. En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan, het die wolk die huis van die Here vervul.

11. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul.

12. TOE het Salomo gesê: Die Here het gesê dat Hy in donkerheid wil woon.

13. Verseker het ek vir U ’n woonhuis gebou, ’n vaste plek vir U om ewig in te woon.

14. Daarop draai die koning sy aangesig om en seën die hele vergadering van Israel, terwyl die hele vergadering van Israel staan.

15. En hy sê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, wie se hand volbring het wat sy mond met my vader Dawid gespreek en gesê het:

16. Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipte uitgelei het, het Ek geen stad verkies uit al die stamme van Israel om ’n huis te bou, dat my Naam daar sou wees nie; maar Ek het Dawid verkies om oor my volk Israel te wees.

17. Toe dit dan in die hart van my vader Dawid was om ’n huis te bou vir die Naam van die Here, die God van Israel,

18. het die Here aan my vader Dawid gesê: Dat dit in jou hart was om vir my Naam ’n huis te bou — daarin het jy goed gehandel, dat dit in jou hart was.

19. Net maar, jý sal die huis nie bou nie, maar jou seun wat uit jou lendene sal voortkom, dié sal vir my Naam die huis bou.

1 Konings 8