1 Konings 8:39-47 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

39. wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van al die mensekinders —

40. sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

41. Ja, ook na die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit ’n ver land ter wille van u Naam kom —

42. want hulle sal hoor van u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm — as hy kom en bid na hierdie huis toe,

43. wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.

44. As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot die Here in die rigting van die stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,

45. wil dan in die hemel hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg verskaf.

46. As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan ’n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na die land van die vyand, ver of naby,

47. en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle hul bekeer en U smeek in die land van die wat hulle weggevoer het, en sê: Ons het gesondig en verkeerd gehandel, ons was goddeloos —

1 Konings 8