20. naamlik die kapitele op die twee pilare bo-aan, verby die vlegwerk wat vlak op die bol was. En die granaatjies was tweehonderd, in rye rondom, ook oor die tweede kapiteel.
21. En hy het die pilare opgerig by die voorportaal van die hoofvertrek. Toe hy die regterpilaar opgerig het, noem hy dit Jagin; en toe hy die linkerpilaar opgerig het, noem hy dit Boas.
22. Toe die leliewerk op die top van die pilare was, was die werk aan die pilare voltooi.
23. Verder het hy die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was tien el, heeltemal rond; en die hoogte daarvan was vyf el, en ’n lyn van dertig el kon dit rondom omspan.
24. En kolokwinte onder die rand daarvan het dit rondom omring; tien op die el het hulle die see rondom omring: twee rye kolokwinte wat aan die gietwerk daarvan vasgegiet is.
25. Dit het gestaan op twaalf beeste: drie kyk na die noorde, en drie kyk na die weste, en drie kyk na die suide, en drie kyk na die ooste toe, terwyl die see bo-op hulle was, en al hulle agterdele was binnekant toe.
26. En die dikte daarvan was ’n handbreed, en sy rand was in die vorm van ’n bekerrand, soos ’n lelieblom; dit het tweeduisend bat gehou.
27. Hy het ook die tien afspoelwaentjies van koper gemaak; die lengte van elke afspoelwaentjie was vier el, en vier el sy breedte en drie el sy hoogte.
28. En dit was die maaksel van die bak: dit het sluitplate gehad, naamlik sluitplate tussen die sporte;
29. en op die sluitplate tussen die sporte was leeus, beeste en gérubs; en net so op die sporte; bokant en onderkant die leeus en beeste was afhangende kransversierings.