25. En werf self vir u ’n leër soos die leër wat u verloor het, en perde soos dié perde, en strydwaens soos dié waens; en laat ons teen hulle in die vlakte veg; dan sal ons sekerlik sterker wees as hulle. En hy het na hulle geluister en so gedoen.
26. En ná verloop van ’n jaar het Bénhadad die Arameërs gemonster en opgetrek na Afek om teen Israel te veg.
27. Die kinders van Israel is ook gemonster en van lewensmiddele voorsien, en het hulle tegemoetgetrek; en die kinders van Israel het teenoor hulle laer opgeslaan soos twee klompies bokke, terwyl die land vol Arameërs was.
28. Toe kom die man van God nader en sê aan die koning van Israel: So spreek die Here: Omdat die Arameërs gesê het: Die Here is ’n god van die berge, en Hy is nie ’n god van die laagtes nie — daarom sal Ek hierdie hele groot menigte in jou hand gee, dat julle kan weet dat Ek die Here is.