1 Konings 20:17-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. En die jongmanne van die owerstes van die provinsies het eerste uitgetrek. Maar Bénhadad het uitgestuur, en hulle het hom berig gebring en gesê: Uit Samaría het manne uitgetrek.

18. En hy sê: As hulle vir vrede uitgetrek het, gryp hulle lewendig; en as hulle vir oorlog uitgetrek het, gryp hulle lewendig.

19. Daarop trek die jongmanne van die owerstes van die provinsies uit die stad uit en die leër agter hulle aan;

20. en hulle verslaan elkeen sy man, sodat die Arameërs gevlug en Israel hulle agtervolg het. Maar Bénhadad, die koning van Aram, het vrygekom op ’n perd met perderuiters saam.

21. En die koning van Israel het uitgetrek en perde en strydwaens verslaan, sodat hy ’n groot slag onder die Arameërs geslaan het.

22. Toe kom die profeet na die koning van Israel en sê vir hom: Gaan, wees sterk; en ondersoek en kyk wat u moet doen; want ná verloop van ’n jaar sal die koning van Aram teen u optrek.

23. Want die dienaars van die koning van Aram het vir hom gesê: Hulle gode is berggode; daarom was hulle vir ons te sterk; maar as ons met hulle op die vlakte veg, sal ons sekerlik sterker wees as hulle.

24. Daarom, doen hierdie ding: Verwyder die konings, elkeen uit sy plek, en stel goewerneurs aan in hulle plek.

25. En werf self vir u ’n leër soos die leër wat u verloor het, en perde soos dié perde, en strydwaens soos dié waens; en laat ons teen hulle in die vlakte veg; dan sal ons sekerlik sterker wees as hulle. En hy het na hulle geluister en so gedoen.

26. En ná verloop van ’n jaar het Bénhadad die Arameërs gemonster en opgetrek na Afek om teen Israel te veg.

27. Die kinders van Israel is ook gemonster en van lewensmiddele voorsien, en het hulle tegemoetgetrek; en die kinders van Israel het teenoor hulle laer opgeslaan soos twee klompies bokke, terwyl die land vol Arameërs was.

28. Toe kom die man van God nader en sê aan die koning van Israel: So spreek die Here: Omdat die Arameërs gesê het: Die Here is ’n god van die berge, en Hy is nie ’n god van die laagtes nie — daarom sal Ek hierdie hele groot menigte in jou hand gee, dat julle kan weet dat Ek die Here is.

29. En hulle was sewe dae lank teenoor mekaar gelaer; maar op die sewende dag het die geveg begin, en die kinders van Israel het van die Arameërs honderdduisend voetgangers op een dag verslaan.

1 Konings 20