15. Toe tel hy die jongmanne van die owerstes van die provinsies, en hulle was tweehonderd-twee-en-dertig; en ná hulle tel hy al die manskappe, al die kinders van Israel: seweduisend.
16. En hulle het op die middag uitgetrek terwyl Bénhadad hom dronk gedrink het in die tente, hy en die konings, die twee-en-dertig konings wat sy bondgenote was.
17. En die jongmanne van die owerstes van die provinsies het eerste uitgetrek. Maar Bénhadad het uitgestuur, en hulle het hom berig gebring en gesê: Uit Samaría het manne uitgetrek.
18. En hy sê: As hulle vir vrede uitgetrek het, gryp hulle lewendig; en as hulle vir oorlog uitgetrek het, gryp hulle lewendig.
19. Daarop trek die jongmanne van die owerstes van die provinsies uit die stad uit en die leër agter hulle aan;
20. en hulle verslaan elkeen sy man, sodat die Arameërs gevlug en Israel hulle agtervolg het. Maar Bénhadad, die koning van Aram, het vrygekom op ’n perd met perderuiters saam.
21. En die koning van Israel het uitgetrek en perde en strydwaens verslaan, sodat hy ’n groot slag onder die Arameërs geslaan het.
22. Toe kom die profeet na die koning van Israel en sê vir hom: Gaan, wees sterk; en ondersoek en kyk wat u moet doen; want ná verloop van ’n jaar sal die koning van Aram teen u optrek.
23. Want die dienaars van die koning van Aram het vir hom gesê: Hulle gode is berggode; daarom was hulle vir ons te sterk; maar as ons met hulle op die vlakte veg, sal ons sekerlik sterker wees as hulle.