32. en dat die Here sy bloed op sy eie hoof laat neerkom, omdat hy op twee manne, regverdiger en beter as hy, aangeval en hulle met die swaard vermoor het sonder medewete van my vader Dawid: Abner, die seun van Ner, die leërowerste van Israel, en Amása, die seun van Jeter, die leërowerste van Juda;
33. en dat hulle bloed op die hoof van Joab en op die hoof van sy nageslag vir ewig kan neerkom, maar Dawid en sy nageslag en sy huis en sy troon vrede kan hê van die Here tot in ewigheid.
34. Toe het Benája, die seun van Jójada, opgegaan en op hom aangeval en hom gedood; en hy is begrawe in sy huis in die woestyn.
35. Daarop het die koning Benája, die seun van Jójada, in sy plek oor die leër aangestel; en Sadok, die priester, het die koning aangestel in die plek van Ábjatar.
36. Verder het die koning Símeï laat roep en vir hom gesê: Bou vir jou ’n huis in Jerusalem, en jy moet daar woon en mag daarvandaan nie uitgaan, nêrens heen nie;
37. die dag dat jy uitgaan en oor die spruit Kidron trek, moet jy voorwaar weet dat jy sekerlik sal sterwe; jou bloed sal op jou hoof wees.
38. En Símeï sê vir die koning: Dit is goed; soos my heer die koning gespreek het, so sal u dienaar doen. En Símeï het baie dae in Jerusalem gebly.
39. Maar aan die einde van drie jaar het twee van Símeï se slawe weggeloop na Agis, die seun van Máäga, die koning van Gat; en aan Símeï is meegedeel en gesê: Jou slawe is daar in Gat.
40. Toe maak Símeï klaar en saal sy esel op en vertrek na Gat, na Agis toe, om sy slawe te soek; en Símeï het gegaan en sy slawe van Gat af gebring.
41. Maar aan Salomo is meegedeel dat Símeï uit Jerusalem na Gat weggegaan en teruggekom het.
42. Daarop laat die koning Símeï roep, en hy sê vir hom: Het ek jou nie by die Here besweer en jou gewaarsku nie en gesê: Die dag dat jy uitgaan en êrens heen trek, moet jy voorwaar weet dat jy sekerlik sal sterwe? En jy het aan my gesê: Dit is goed; ek het gehoor.
43. Waarom het jy dan die eed by die Here en die gebod wat ek jou opgelê het, nie gehou nie?
44. Verder sê die koning vir Símeï: Jy ken self al die boosheid waar jou hart van weet, wat jy my vader Dawid aangedoen het; daarom laat die Here jou boosheid op jou eie hoof neerkom.
45. Maar mag koning Salomo geseënd wees en die troon van Dawid bevestig word voor die aangesig van die Here tot in ewigheid!
46. Daarop gee die koning bevel aan Benája, die seun van Jójada: dié het uitgegaan en op hom aangeval, sodat hy gesterf het.
47. En die koningskap is bevestig in die hand van Salomo.