3. Gaan hiervandaan weg en draai jou na die ooste toe en steek jou weg by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is;
4. en jy moet uit die spruit drink, en Ek het aan die kraaie bevel gegee om jou daar te onderhou.
5. En hy het gegaan en gehandel volgens die woord van die Here: hy het gaan bly by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is.
6. En die kraaie het vir hom smôrens brood en vleis gebring, en saans brood en vleis, en hy het uit die spruit gedrink.
7. Maar ná verloop van tyd het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in die land nie.
8. Toe kom die woord van die Here tot hom en sê:
9. Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan ’n weduwee bevel gegee om jou te onderhou.
10. Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was ’n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my ’n bietjie water in die kan, dat ek kan drink.
11. Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my ’n stukkie brood saam.