Spreuke 19:4-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Rykdom bring baie mooiweersvriende. ’n Arm mens het geen vriende nie.

5. ’n Vals getuie bly nie sonder straf nie. ’n Leuenaar sal die oordeel nie vryspring nie.

6. Almal probeer om gewild te wees by ’n belangrike man. Almal is vriende met die man wat geskenke uitdeel.

7. As ’n arm man se broers niks met hom te doen wil hê nie, hoeveel te meer sal sy naaste hulle nie aan hom steur nie? Hy smeek verniet by hulle. Hulle is weg.

8. Iemand wat vir homself omgee, kry wysheid in die hande. Iemand wat insig vashou, geniet voorspoed.

9. ’n Vals getuie kom nie vry nie. Iemand wat leuens rondstrooi, gaan tot niet.

10. Weelde pas nie by ’n dwaas nie. ’n Slaaf behoort nog minder te regeeroor belangrike mense.

11. ’n Verstandige mens hou sy humeur in bedwang.Hy stel sy eer daarin om ander se oortredings oor te sien.

12. As ’n koning kwaad word, is dit soos ’n leeu wat brul. Sy goeie gesindheid is soos dou op die gras.

13. ’n Dwase seun is ’n ramp vir sy pa. ’n Vrou wat bly neul, is soos water wat van die dak af drup.

Spreuke 19