Romeine 6:16-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Besef julle nie dat dít waarvoor ’n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie? Jy kan die sonde kies en daarmee saam die dood, of jy kan kies om God te gehoorsaam en volgens sy wil te lewe.

17. Julle moet vir God dankie sê dat julle wat voorheen slawe van die sonde was, nou met julle hele hart gehoorsaam geword het aan die ware evangelie wat aan julle oorgelewer is.

18. Verlos van die sonde het julle nou slawe geword van dit wat reg is voor God.

19. Ek praat op hierdie manier van slawe en base omdat dit makliker is om te verstaan. Voorheen het julle julle liggaamlike vermoëns diensbaar gemaak aan onreinheid en wetteloosheid en ’n wilde lewe gelei; net so moet julle nou al julle liggaamlike vermoëns aan die geregtigheid diensbaar maak en ’n lewe lei wat aan God toegewy is.

20. Destyds toe julle slawe van die sonde was, het julle julle nie gesteur aan wat reg is voor God nie.

Romeine 6