Romeine 5:17-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Die oortreding van hierdie een mens, Adam, het veroorsaak dat die dood oor ons regeer, maar deur die een mens, Jesus Christus, word vir ons nog veel meer gegee: Almal wat God se oorvloedige genadegeskenk van vryspraak ontvang, sal koninklik oor die sonde en die dood triomfeer.

18. Ja, Adam se een oortreding het God se veroordeling oor almal gebring, maar net so het Christus se een daad van gehoorsaamheid vryspraak en lewe vir almal gebring.

19. Omdat een persoon aan God ongehoorsaam was, het baie mense sondaars geword. Net so sal baie deur die gehoorsaamheid van hierdie één, ánder Mens tot regverdiges verklaar word.

20. God se wet is gegee sodat alle mense kon sien hoe groot en baie hulle oortredings is. Maar hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword.

21. Die gevolg hiervan is dat net soos die sonde oor almal regeer het en die dood oor hulle gebring het, God se genade nou regeer. Dit laat ons nou as regverdiges voor God staan, en loop uit op die ewige lewe wat ons deur Jesus Christus ons Here sal ontvang.

Romeine 5