Numeri 5:20-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. As jy wel ontrou was aan jou man en oortree het en by ’n ander man as jou eie geslaap het’

21. – en hy herinner haar dat sy onder eed is – ‘mag die Here dan ’n vloek oor jou bring voor jou mense deur jou onvrugbaar te maak.

22. Hierdie water wat vervloeking bring, sal dan vir jou ’n miskraam gee.’ Die vrou moet dan sê: ‘Amen. Laat dit so wees.’

23. Die priester moet hierdie vervloeking dan neerskryf op ’n papier en dit afwas in die bitter water.

24. Hy moet die vrou laat drink van die bitter water wat die vervloeking bring. As sy skuldig is, sal die water groot swaarkry vir haar bring.

25. “Die priester vat dan die offer wat bepaal of sy skuldig is of nie, uit die vrou se hande, hou dit uit na die Here toe en sit dit dan op die altaar.

26. Hy vat ’n hand vol van die meel en verbrand dit op die altaar. Hy laat dan die vrou van die water drink.

27. As sy die water drink en sy het wel oortree deur aan haar man ontrou te wees, sal die water ’n vervloeking oor haar bring. Dit sal haar bitter swaar laat kry en veroorsaak dat sy ’n miskraam het. Die vrou sal ’n vervloekte in haar gemeenskap word.

28. As sy nie oortree het nie en onskuldig is, sal sy kinders hê.

29. “Dit is die prosedure wat gevolg word wanneer ’n vrou ontrou was aan haar man en haarself besoedel het,

30. of wanneer ’n man rede het om te vermoed dat sy vrou ontrou was aan hom. Die man moet sy vrou voor die Here bring en die priester moet volgens hierdie voorskrifte optree.

31. Die man sal onskuldig wees, maar sy vrou sal verantwoordelik gehou word vir haar oortreding.”

Numeri 5