15. Hierdie ses plekke moet beskerming gee vir Israeliete, vreemdelinge en enigiemand wat tydelik tussen julle woon. Enigeen wat ’n ander een per ongeluk doodgemaak het, kan daarheen vlug.”
16. “As iemand ’n ander een met ’n stuk yster slaan en hy gaan dood, het hy moord gepleeg. Die moordenaar moet beslis tereggestel word.
17. As iemand ’n ander een met ’n groot klip in sy hand doodgemaak het, is dit moord. Hy moet beslis doodgemaak word.
18. As hy hom met ’n stuk hout doodgeslaan het, is dit moord. Hy moet tereggestel word.
19. Die slagoffer se naaste familielid moet sy dood wreek. Hy moet die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.
20. As iemand ’n ander doelbewus stamp of hom voorlê en met iets gooi, en die persoon gaan dood,
21. of hom moedswillig met die vuis slaan sodat hy sterf, moet hy tereggestel word. Hy is skuldig aan moord. ’n Naaste familielid van die slagoffer moet sy dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.
22. “As iemand egter sonder opset en sonder dat hy dit vooraf beplan het, iemand anders omstamp sodat hy sterf, of hom per ongeluk met iets raak gooi sonder dat hy dit bedoel het,
23. of as iemand sonder dat hy mooi kyk iemand teen wie hy niks het nie met ’n klip raak gooi dat hy daarvan doodgaan,
24. moet die regters in die saak tussen die aangeklaagde en die naaste familielede uitspraak lewer volgens hierdie riglyne.
25. Die regters moet die beskuldigde beskerm teen die familie wat wil wraak neem. Hulle moet hom terugstuur na die plek van asiel waarheen hy gevlug het. Hy moet daar bly totdat die hoëpriester, wat vir sy amp met olie gesalf is, die dag doodgaan.
26. “As die persoon wat die ander doodgemaak het, die gebied verlaat van die plek waarheen hy vir asiel gevlug het,