7. Waarom wil julle die ander Israeliete terughou om oor te trek na die land wat die Here vir hulle sal gee?
8. Dit is presies wat julle voorouers gedoen het toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan bekyk.
9. Nadat hulle deur die Eskolspruit gegaan het en die land verken het, het hulle die Israeliete probeer terughou om nie na die land toe te gaan wat die Here vir hulle sou gee nie.
10. Die Here het toe baie kwaad geword vir hulle en gesweer
11. dat niemand bo twintig jaar oud wat uit Egipte getrek het, die land sou sien wat Hy met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie. Hulle was nie getrou aan die Here nie.
12. Net Kaleb, die seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua, die seun van Nun, sou die land sien. Hulle was getrou aan die Here.
13. Die Here was so kwaad vir Israel dat Hy hulle 40 jaar lank deur die woestyn laat rondtrek het, totdat daardie hele geslag wat teen Hom oortree het, uitgesterf het.
14. Hier kom julle nou, julle sondige mense, en julle maak net soos julle voorouers! Julle maak die Here selfs nog meer kwaad vir Israel.
15. As julle nou die rug op Hom draai en Hy laat die volk nog langer in die woestyn bly, gaan julle hierdie hele nasie vernietig.”
16. Hulle het Moses geantwoord: “Ons wil maar net intussen krale hier bou vir ons vee en veilige blyplek vir ons gesinne.
17. Ons sal egter dadelik ons wapens vat en voor die Israeliete uittrek totdat ons hulle by hulle blyplek gebring het. Intussen kan ons gesinne veilig wees teen die inwoners van die land in die plekke wat ons gebou het.
18. Ons sal nie na ons blyplekke toe terugkom voordat elke Israeliet sy deel gekry het nie.
19. Ons wil nie saam grond aan die ander kant van die Jordaan hê nie. Ons wil eerder grond hier aan die oostekant van die Jordaan hê.”
20. Toe sê Moses vir hulle: “As julle julle woord hou en saam voor die Here optrek om te gaan veg
21. en gewapend deur die Jordaan trek totdat die Here sy vyande uitgewis het,