18. Ons sal nie na ons blyplekke toe terugkom voordat elke Israeliet sy deel gekry het nie.
19. Ons wil nie saam grond aan die ander kant van die Jordaan hê nie. Ons wil eerder grond hier aan die oostekant van die Jordaan hê.”
20. Toe sê Moses vir hulle: “As julle julle woord hou en saam voor die Here optrek om te gaan veg
21. en gewapend deur die Jordaan trek totdat die Here sy vyande uitgewis het,
22. en die land aan die Here onderwerp is, dan eers kan julle terugkom. Julle sal dan vrygestel wees van julle plig teenoor die Here en teenoor Israel. Dit sal eers dan die land wees wat die Here vir julle gee.
23. As julle egter nie doen wat julle beloof het nie, doen julle sonde teen die Here. Weet dan dat julle sonde aan die lig sal kom.
24. Gaan bou nou die veilige plekke vir julle gesinne en die krale vir julle vee. Onthou net om te doen wat julle beloof het.”
25. Die mense van Gad en Ruben het vir Moses gesê: “Ons is u dienaars. Ons sal doen wat u vir ons gesê het.
26. Ons vroue en kinders, ons vee en ons beeste sal hier in die dorpe van Gilead agterbly.
27. U dienaars sal almal gewapend optrek om vir die Here te gaan veg soos u gesê het.”
28. Moses het toe ’n opdrag vir die priester Eleasar, vir Josua seun van Nun en vir die leiers van die stamme van Israel gegee.
29. Moses het vir hulle gesê: “Wanneer al die gewapende mans van Gad en Ruben saam met julle deur die Jordaan getrek het om vir die Here te gaan oorlog maak en die land aan julle onderwerp is, moet julle die gebied van Gilead vir hulle gee as hulle eiendom.