Numeri 32:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Hier kom julle nou, julle sondige mense, en julle maak net soos julle voorouers! Julle maak die Here selfs nog meer kwaad vir Israel.

15. As julle nou die rug op Hom draai en Hy laat die volk nog langer in die woestyn bly, gaan julle hierdie hele nasie vernietig.”

16. Hulle het Moses geantwoord: “Ons wil maar net intussen krale hier bou vir ons vee en veilige blyplek vir ons gesinne.

17. Ons sal egter dadelik ons wapens vat en voor die Israeliete uittrek totdat ons hulle by hulle blyplek gebring het. Intussen kan ons gesinne veilig wees teen die inwoners van die land in die plekke wat ons gebou het.

18. Ons sal nie na ons blyplekke toe terugkom voordat elke Israeliet sy deel gekry het nie.

19. Ons wil nie saam grond aan die ander kant van die Jordaan hê nie. Ons wil eerder grond hier aan die oostekant van die Jordaan hê.”

20. Toe sê Moses vir hulle: “As julle julle woord hou en saam voor die Here optrek om te gaan veg

21. en gewapend deur die Jordaan trek totdat die Here sy vyande uitgewis het,

22. en die land aan die Here onderwerp is, dan eers kan julle terugkom. Julle sal dan vrygestel wees van julle plig teenoor die Here en teenoor Israel. Dit sal eers dan die land wees wat die Here vir julle gee.

23. As julle egter nie doen wat julle beloof het nie, doen julle sonde teen die Here. Weet dan dat julle sonde aan die lig sal kom.

Numeri 32