11. dat niemand bo twintig jaar oud wat uit Egipte getrek het, die land sou sien wat Hy met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie. Hulle was nie getrou aan die Here nie.
12. Net Kaleb, die seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua, die seun van Nun, sou die land sien. Hulle was getrou aan die Here.
13. Die Here was so kwaad vir Israel dat Hy hulle 40 jaar lank deur die woestyn laat rondtrek het, totdat daardie hele geslag wat teen Hom oortree het, uitgesterf het.
14. Hier kom julle nou, julle sondige mense, en julle maak net soos julle voorouers! Julle maak die Here selfs nog meer kwaad vir Israel.
15. As julle nou die rug op Hom draai en Hy laat die volk nog langer in die woestyn bly, gaan julle hierdie hele nasie vernietig.”
16. Hulle het Moses geantwoord: “Ons wil maar net intussen krale hier bou vir ons vee en veilige blyplek vir ons gesinne.
17. Ons sal egter dadelik ons wapens vat en voor die Israeliete uittrek totdat ons hulle by hulle blyplek gebring het. Intussen kan ons gesinne veilig wees teen die inwoners van die land in die plekke wat ons gebou het.
18. Ons sal nie na ons blyplekke toe terugkom voordat elke Israeliet sy deel gekry het nie.