Numeri 25:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Terwyl Israel by Sittim gebly het, het die volk hulleself besoedel. Hulle het by Moabitiese vroue geslaap.

2. Hierdie vroue het die volk uitgenooi om saam met hulle offers vir hulle gode te bring. Die volk het saam met hulle geëet en die gode van Moab aanbid.

3. Hulle het begin om vir Baäl-Peor te aanbid. Die Here was baie kwaad vir Israel.

4. Die Here het vir Moses opdrag gegee: “Kry al die leiers van die volk bymekaar. Hang hulle in die helder dag by die tabernakel op sodat die Here se woede kan bedaar.”

5. Moses het die stamhoofde van Israel aangesê om elke persoon wat Baäl-Peor begin aanbid het, dood te maak.

6. Terwyl Moses en die gemeenskap nog so by die ingang van die tabernakel gestaan en huil het, het ’n man uit Israel openlik daar aangekom met ’n vrou uit Midian.

7. Toe die priester Pinehas, seun van Eleasar, die seun van Aäron, dit sien, het hy tussen die mense opgespring en ’n spies gegryp.

8. Hy het die man agternagesit na sy tent toe. Hy het die spies dwarsdeur die Israeliet en deur die vrou se maag gegooi. Dit het die plaag wat oor Israel gekom het, laat ophou.

9. Daar het 24 000 mense aan die plaag gesterf.

Numeri 25