26. Maar Jesus sê vir hulle: “Waarom is julle so verskrik? Is julle geloof dan regtig so klein?” Daarna het Hy opgestaan, die winde en die see streng aangespreek en daar het ’n groot kalmte gekom.
27. Die dissipels was oorweldig. “Watter soort mens is Hy dat selfs die winde en die see na Hom luister?”
28. Toe Jesus oorkant die see in die land van die Gadareners aankom, kom twee duiwelbesetenes uit die begraafplaas Hom tegemoet. Hulle was sulke woestaards dat niemand dit kon waag om daarlangs verby te gaan nie.
29. Meteens begin hulle hard uitskreeu: “Los ons uit, Seun van God! Het U hiernatoe gekom om ons voor die tyd te pynig?”
30. ’n Hele ent daarvandaan was daar ’n groot trop varke aan die wei.
31. Die bose geeste het Jesus aangehou smeek: “As U ons wil uitdryf, stuur ons dan in die trop varke in.”
32. Hy het vir hulle gesê: “Maak dan dat julle wegkom!” Hulle het toe uit die twee mense gegaan en in die varke ingevaar. Meteens het die hele trop teen die skuinste af die see ingestorm en in die golwe versuip.
33. Hulle oppassers het weggehardloop dorp toe en alles gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het.