Matteus 22:25-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste een het getrou en omdat hy kinderloos gesterf het, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.

26. Dieselfde ding het gebeur met al die broers tot die sewende een toe.

27. Laaste van almal is die vrou ook dood.

28. “Sê nou vir ons – wie van hierdie sewe se vrou sal sy by die opstanding wees? Hulle was tog almal met haar getroud.”

29. Jesus het hulle geantwoord: “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie.

30. Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie. Mense sal soos engele in die hemel wees.

31. Maar wat die opstanding van die dooies betref – het julle niks hieroor in die Skrif raakgelees nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers gesê:

32. ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie.”

33. Toe die skare hiervan hoor, was hulle diep beïndruk deur Jesus se onderrig.

34. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus met sy antwoord die Sadduseërs koudgesit het, het hulle bymekaargekom om ’n nuwe plan teen Hom te bedink.

35. Een van hulle, ’n deskundige op die wet, het Hom toe met die volgende vraag probeer vastrek:

36. “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”

37. Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’

Matteus 22