25. Toe het Jesus sy hande weer ’n keer op die man se oë gesit. Sy oë het begin fokus en sy sig is volkome herstel. Hy kon nou alles duidelik sien.
26. Jesus het hom toe beveel: “Gaan reguit huis toe. Moenie indraai dorp toe nie.”
27. Jesus en sy dissipels het Galilea verlaat en na die dorpies van Sesarea-Filippi gegaan. Op pad vra Hy sy dissipels toe: “Wie, sê die mense, is Ek werklik?”
28. “Wel,” antwoord hulle Hom, “party meen U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander die een of ander profeet.”
29. Hy sê vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”Petrus antwoord: “U is die Messias.”
30. Maar Jesus het aan hulle streng opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie.
31. Jesus het toe by hulle begin tuisbring dat God bepaal het dat Hy, die Seun van die Mens, baie dinge moet ly: Hy sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Hy sal doodgemaak word, maar sal ná drie dae weer opstaan.
32. Hy het dit reguit vir hulle vertel. Maar Petrus vat Hom toe eenkant toe en begin Hom ernstig bestraf.