6. God se bedoeling is egter duidelik van die begin van die skepping af, want daar staan geskryf: ‘Manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’
7. En: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg.
8. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam.
9. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaar haal nie.”
10. Toe hulle later weer alleen tuis is, het sy dissipels Hom verder oor hierdie onderwerp uitgevra.
11. Hy sê toe vir hulle: “’n Man wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk teenoor sy vrou.
12. En as sy van haar man skei en met iemand anders trou, pleeg sy egbreuk.”
13. Ouers het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak en seën, maar sy dissipels het hulle daaroor aangespreek.
14. Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom. Moenie hulle keer nie. Want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.
15. Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”
16. Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën.