Markus 10:33-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

33. “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die nie-Jode.

34. Hulle sal My bespot en op My spoeg; hulle sal My gésel en doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek opstaan.”

35. Daarop het Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Leermeester, ons wil van U ’n guns vra.”

36. “Wat moet Ek vir julle doen?” het Hy gevra.

37. “In u koninklike heerlikheid – mag ons op die ereplekke regs en links van U sit?” het hulle gevra.

38. Jesus het vir hulle gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie. Sien julle kans om die bitter lydensbeker te drink wat Ek binnekort gaan drink? Sien julle kans vir die lydensdoop waarmee Ek gedoop moet word?”

39. Hulle sê vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.” “Dis waar,” sê Hy vir hulle. “Julle sal inderdaad van my beker drink en met my doop gedoop word,

40. maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. Daardie plekke is bestem vir hulle vir wie God dit gereedgemaak het.”

41. Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee wou hê, het hulle bitterlik verontwaardig teenoor Jakobus en Johannes geword.

42. Jesus roep hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die sogenaamde maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle.

Markus 10