28. Petrus begin toe ophaal wat hulle alles opgeoffer het: “U besef dat ons alles agtergelaat het om U te volg.”
29. Daarop het Jesus geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat ’n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het,
30. sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe!
31. Baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”
32. Hulle was nou op pad na Jerusalem. Jesus het voor hulle uit geloop, en sy dissipels was vol angs. Ook die mense wat agter hulle aan gekom het, was met vrees vervul. Jesus het weer die twaalf eenkant geneem en vir hulle begin vertel wat met Hom sou gebeur:
33. “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die nie-Jode.
34. Hulle sal My bespot en op My spoeg; hulle sal My gésel en doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek opstaan.”
35. Daarop het Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Leermeester, ons wil van U ’n guns vra.”
36. “Wat moet Ek vir julle doen?” het Hy gevra.
37. “In u koninklike heerlikheid – mag ons op die ereplekke regs en links van U sit?” het hulle gevra.