Markus 10:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daarna het Jesus Kapernaum verlaat en suidwaarts vertrek na die omgewing van Judea en die gebied aan die oostekant van die Jordaan. Weereens het daar ’n groot skare mense by Hom vergader en soos altyd het Hy hulle weer onderrig.

2. ’n Paar Fariseërs wat Jesus in ’n strik wou laat trap, kom toe na Hom toe met die volgende vraag: “Laat die wet ’n man toe om van sy vrou te skei?”

3. “Wat het Moses julle beveel?” was Jesus se reaksie.

4. Hulle het geantwoord: “Moses het dit wel toegelaat. ’n Man moes net eers ’n egskeidingsdokument opstel en dan kon hy van sy vrou skei.”

5. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moses het hierdie reëling bloot getref as ’n toegewing aan die sondige verhardheid van julle harte.

6. God se bedoeling is egter duidelik van die begin van die skepping af, want daar staan geskryf: ‘Manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’

7. En: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg.

8. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam.

9. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaar haal nie.”

10. Toe hulle later weer alleen tuis is, het sy dissipels Hom verder oor hierdie onderwerp uitgevra.

11. Hy sê toe vir hulle: “’n Man wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk teenoor sy vrou.

12. En as sy van haar man skei en met iemand anders trou, pleeg sy egbreuk.”

Markus 10