Lukas 9:42-58 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

42. Terwyl die seun vorentoe kom, het die gees hom platgeslaan en hom hewige stuiptrekkings laat kry. Maar Jesus het die onrein gees bestraf en die seun gesond gemaak. Toe het Hy hom aan sy pa teruggegee.

43. Die mense was verslae toe hulle hierdie wonderbaarlike uiting van God se krag sien.Terwyl almal verbaas was oor al die wonderlike dinge wat Hy doen, het Jesus vir sy dissipels gesê:

44. “Luister na My en onthou wat Ek sê. Ek, die Seun van die Mens, gaan uitgelewer word aan die mag van mense.”

45. Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie. Die belang van wat Hy gesê het, was vir hulle verborge. Daarom het hulle nie begryp nie en was huiwerig om Hom daaroor uit te vra.

46. Toe het daar ’n argument onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste sou wees.

47. Maar Jesus het hulle gedagtes geken. Daarom het Hy ’n klein kindjie langs Hom laat staan.

48. Toe sê Hy vir hulle: “Enigiemand wat ’n klein kindjie soos hierdie namens My ontvang, ontvang My, en enigiemand wat My ontvang, ontvang my Vader wat My gestuur het. Wie die geringste onder julle is, hy is die belangrikste.”

49. Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf. Ons wou hom keer omdat hy nie deel van ons groep is nie.”

50. Maar Jesus het geantwoord: “Los hom. Enigiemand wat nie teen julle is nie, is vir julle.”

51. Toe die tyd naderkom vir Jesus se terugkeer hemel toe, het Hy vasbeslote die tog na Jerusalem begin.

52. Hy het boodskappers vooruit gestuur na ’n Samaritaanse dorpie om vir sy koms gereed te maak.

53. Maar die mense van die dorpie wou niks met Jesus te doen hê nie omdat Hy van plan was om Jerusalem toe te gaan.

54. Toe Jakobus en Johannes dit hoor, het hulle vir Jesus gesê: “Here, moet ons vuur uit die hemel laat kom om hulle te verbrand?”

55. Maar Jesus het omgedraai en hulle tereggewys.

56. Hulle het toe na ’n ander dorpie toe gegaan.

57. Terwyl hulle op pad was, het iemand vir Jesus gesê: “Ek sal U volg, maak nie saak waar U gaan nie.”

58. Maar Jesus het geantwoord: “Jakkalse het gate om in te bly, en voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het nie eers ’n plek om my kop neer te lê nie.”

Lukas 9