Lukas 23:36-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

36. Ook die soldate het vorentoe beweeg en Jesus gespot. Hulle het vir Hom asynwyn aangebied

37. en gesê: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.”

38. Daar was ook ’n kennisgewing bokant Jesus se kop: “Hierdie man is die Koning van die Jode.”

39. Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê: “Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!”

40. Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!

41. Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”

42. Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”

43. Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

44. Teen ongeveer twaalfuur het duisternis toegesak oor die hele land tot drie-uur toe.

45. Die son is uitgedoof en die swaar gordyn van die tempel het middeldeur geskeur.

46. Met ’n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas.

47. Toe die Romeinse offisier oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê: “Hierdie man was werklikwaar regverdig.”

48. Die hele skare wat saamgedrom het vir hierdie skouspel en gesien het wat alles gebeur het, het as teken van rou op hulle bors geslaan en huis toe gegaan.

Lukas 23