Lukas 22:20-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Hy het dieselfde gedoen met die beker ná die ete en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, bevestig deur my bloed, wat ter wille van julle uitgegiet word.

21. “Maar kyk, die man wat My uitlewer, is hier saam met My aan die tafel.

22. Met die Seun van die Mens sal dit inderdaad gaan volgens die beskikking van God, maar groot ellende wag op hom deur wie Hy uitgelewer word!”

23. Toe het die dissipels mekaar begin uitvra wie van hulle dit tog kon wees wat só iets sou doen.

24. Daar het toe ’n wedywering onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.

25. Jesus het egter gereageer: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en dié wat gesag oor hulle uitoefen, laat noem hulleself weldoeners.

26. “By julle moet dit egter nie só gaan nie, maar die belangrikste een onder julle moet wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos een wat dien.

27. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Dit is tog hy wat aan tafel is. Ek is egter in julle midde soos een wat dien.

28. Maar julle is die mense wat deur dik en dun in my swaarkry by My gebly het.

29. “Net soos my Vader ’n koninkryk aan My toegewys het, só bemaak Ek dit ook aan julle

30. sodat julle in my koninkryk kan eet en drink aan my tafel en kan sit op trone om oor die twaalf stamme van Israel reg te spreek.”

Lukas 22