Lukas 1:18-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek weet dat dié dinge gaan gebeur? Ek is al ’n ou man en my vrou is ook al op gevorderde leeftyd.”

19. Toe sê die engel: “Ek is Gabriël. Ek staan in God se eie teenwoordigheid. Hy het my gestuur om die goeie nuus aan jou te bring!

20. En omdat jy nie geglo het wat ek sê nie, sal jy nie kan praat nie, totdat die kind gebore is. Want my woorde sal op die bestemde tyd beslis waar word.”

21. Intussen het die mense vir Sagaria gewag om uit te kom, en hulle het begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly.

22. Toe hy uiteindelik uit die tempel kom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle het afgelei dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. Hy het aanmekaar vir hulle beduie en stom gebly.

23. Hy het by die tempel gebly totdat sy diensbeurt om was, en toe is hy huis toe.

24. Kort daarna het sy vrou, Elisabet, swanger geword en sy het vir vyf maande in afsondering gegaan.

25. “Hoe goed is die Here!” het sy uitgeroep. “Hy het die skande van my kinderloosheid van my af weggevat!”

26. Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, ’n dorp in Galilea, gestuur

27. na ’n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef, ’n afstammeling van koning Dawid.

28. Gabriël het aan haar verskyn en gesê: “Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!”

29. Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken.

30. “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën!

31. Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem.

32. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee.

Lukas 1