Levitikus 8:30-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

30. Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed op die altaar geneem en dit op Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. Op dié manier het hy Aäron en sy seuns en hulle klere gewy.

31. Toe het Moses vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die res van die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat vir die wyding van die priesters gebruik is, net soos ek jou beveel.

32. Enige vleis of brood wat oorbly, moet verbrand word.

33. Vir sewe dae lank mag julle nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie, want dit is hoe lank dit sal neem om die wydingseremonie te voltooi.

34. Wat vandag gedoen is, is die bevel van die Here sodat daar versoening vir julle kan wees.

35. Onthou, julle moet by die ingang van die tent van ontmoeting bly vir sewe dae en sewe nagte en doen wat die Here vra. As julle dit nie doen nie, sal julle sterf. Dit is wat die Here sê.”

36. Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die Here deur Moses beveel het.

Levitikus 8