14. Toe het Moses die bul vir die sonde-offer ingebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit.
15. Moses het die bul geslag, van die bloed gevat en met sy vinger van die bloed op die vier horings van die altaar gesmeer om dit te reinig. Die res van die bloed het hy teen die kant van die altaar uitgegooi. Op dié manier het hy die altaar geheilig sodat daarop versoening gedoen kan word.
16. Hy het toe al die vet rondom die binnegoed, die punt van die lewer, die twee niere en hulle vet geneem en dit alles op die altaar verbrand.
17. Die res van die bul met sy vel, vleis en mis is aan die buitekant van die kamp verbrand, net soos die Here hom beveel het om te doen.
18. Moses het toe die ram as brandoffer vir die Here gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op sy kop gesit.
19. Moses het die ram geslag en van die bloed gevat en dit teen die kante van die altaar gesprinkel.
20. Daarna het hy die ram in stukke gesny en die kop, sommige van die stukke vleis en die vet op die altaar verbrand.
21. Nadat hy die binnegoed en die pote met water gewas het, het Moses die hele ram op die altaar as ’n brandoffer verbrand. Dit was ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom. Alles is gedoen net soos die Here vir Moses beveel het.
22. Moses het toe ’n tweede ram gebring. Dit was die ram vir die wyding van die priesters. Aäron en sy seuns het hulle hande op sy kop gesit.
23. Moses het die ram geslag en van die bloed geneem en dit aan die oorlel van Aäron se regteroor, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer.