Levitikus 7:17-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Enigiets wat oorbly tot op die derde dag moet heeltemal verbrand word.

18. As enige vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die Here dit nie aanvaar nie. Dit sal geen waarde as ’n offer hê nie en dit sal ook nie in die guns tel van die een wat die offer gebring het nie. Op daardie stadium sal die vleis al sleg wees en as jy dit eet, sal jy verantwoording moet doen vir jou sonde.

19. “Vleis wat aan enigiets wat onrein is, geraak het, mag nie geëet word nie, dit moet heeltemal verbrand word. Vleis wat geëet mag word, mag net geëet word deur iemand wat rein is.

20. Iemand wat onrein is, maar wat vleis van ’n maaltydoffer vir die Here geëet het, moet uit die gemeenskap verwyder word.

21. As iemand aan iets raak wat onrein is, of dit nou iets onreins aan ’n mens of van ’n onrein dier is, en so ’n persoon eet vleis van offers vir die Here, moet so iemand uit die gemeenskap verwyder word.”

22. Die Here het vir Moses gesê:

23. “Gee vir die Israeliete hierdie instruksies: Julle mag nooit vet eet nie, nie die vet van osse of skape of bokke nie.

24. Die vet van ’n dooie dier of van ’n dier wat deur roofdiere gevang is, mag nooit geëet word nie. Dit mag egter wel vir ander doeleindes gebruik word.

25. Enigiemand wat vet van ’n dier eet wat as vuuroffer vir die Here gegee word, moet uit die gemeenskap verwyder word.

26. Selfs in julle huise mag julle nooit die bloed van enige voël of dier eet nie.

27. Enigiemand wat bloed eet, moet uit die gemeenskap verwyder word.”

Levitikus 7