Levitikus 6:20-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “Op die dag waarop Aäron en sy seuns gesalf word, moet hulle ’n graanoffer vir die Here bring: twee kilogram meel, die een helfte vir die offer in die oggend, die ander helfte vir die offer in die aand.

21. Dit moet met olyfolie op ’n plaat gebraai word en dit moet in stukkies gebreek word. Dit is die graanoffer wat jy moet bring. Dit sal aangenaam vir die Here wees.

22. Soos wat die seuns hulle vaders as hoëpriesters opvolg, moet hulle in hulle amp bevestig word deur hierdie offer te bring op die dag waarop hulle gesalf word. Dit is die Here se deel en moet heeltemal verbrand word.

23. Elke graanoffer van die priester moet heeltemal verbrand word. Niks van die meel mag geëet word nie.”

24. Toe het die Here vir Moses gesê:

25. “Gee vir Aäron en sy seuns verdere instruksies oor die sonde-offer. Die dier wat as sonde-offer gegee word, is besonder heilig en moet in die teenwoordigheid van die Here geslag word op die plek waar die brandoffers geslag word.

26. Die priester wat die offer bring, mag sy deel op ’n heilige plek in die voorhof van die tent van ontmoeting eet.

27. Wie of wat ook al aan die offervleis raak, moet geheilig wees. As daar van die offerbloed op iemand se klere spat, moet dit op ’n heilige plek uitgewas word.

28. As ’n kleipot gebruik word om die offervleis in te kook, moet dit daarna gebreek word. As ’n bronspot gebruik word, moet dit weer geskuur en goed met water uitgespoel word.

29. Net mans in die familie van die priester mag van die offervleis eet, want dit is heilig.

30. Wanneer die bloed van die sonde-offer in die tent van ontmoeting ingebring word om daarmee versoening te bewerk in die heiligdom, mag niks van die offerdier se vleis geëet word nie. Dit moet heeltemal verbrand word.”

Levitikus 6