Levitikus 6:2-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. “Sê nou maar iemand sondig teen die Here deur valslik vir sy buurman te vertel dat iets wat aan hom toevertrou is, verlore geraak het of gesteel is. Of sê nou maar iemand was oneerlik met iets wat in veilige bewaring vir hom gegee is, of hy het iets gevat deur dit te steel of af te pers.

3. Of sê nou maar iemand vind ’n verlore item en lieg daaroor, of iemand ontken iets onder eed, of hy sondig deur iets soortgelyks te doen.

4. As iemand op so ’n manier gesondig het en skuldig is, moet hy dit wat hy deur diefstal of afpersing gevat het, teruggee. Dit geld ongeag of dit iets in veilige bewaring was, of eiendom wat aan iemand toevertrou was, of ’n verlore item wat mense as hulle eie sou opeis,

5. of enigiets wat verkry is deur ’n vals eed af te lê. Wanneer hulle besef hulle is skuldig, moet hulle die volle bedrag plus ’n bykomende heffing van twintig persent teruggee aan die persoon wat benadeel is.

6. Hy moet dan ’n skuldoffer vir die priester bring, wat dit dan aan die Here sal gee. Hierdie skuldoffer moet ’n ram sonder enige liggaamsgebrek wees of die dier se waarde in silwer.

7. Die priester sal dan voor die Here versoening bewerk en so sal hy vergewe word.”

8. Toe het die Here vir Moses gesê:

9. “Gee vir Aäron en sy seuns die volgende instruksies oor die brandoffer. Die brandoffer moet op die altaar bly tot die volgende môre. Die altaarvuur moet die hele nag deur bly brand.

10. Die volgende môre moet die priester sy spesiale linneklere aantrek. Die diensdoende priester moet dan die as van die brandoffer wegneem en dit langs die altaar neersit.

11. Dan moet die priester weer sy gewone klere aantrek en die as na die buitekant van die kamp toe dra na ’n plek wat daarvoor afgesonder is.

12. Intussen moet die altaarvuur bly brand; dit mag nie uitbrand nie. Die priester moet elke oggend hout op die vuur gooi en die daaglikse brandoffer daarop sit. Hy moet dan die vet van die maaltydoffer bo-op die daaglikse brandoffer verbrand.

Levitikus 6