13. Onthou, die vuur op die altaar moet te alle tye bly brand. Dit mag nooit uitbrand nie.”
14. “Dit is die instruksies vir die graanoffer. Aäron se seuns moet hierdie offer vir die Here voor die altaar bring.
15. Die diensdoende priester sal ’n hand vol meel vat, met olyfolie meng en dit sprinkel met wierook. Hy sal ’n verteenwoordigende deel hiervan op die altaar verbrand. Dit sal baie aangenaam vir die Here wees.
16. Nadat hierdie deel van die meel verbrand is, kan Aäron en sy seuns die res van die meel gebruik. Dit moet egter sonder suurdeeg gebak word en op ’n heilige plek in die voorhof van die tent van ontmoeting geëet word.
17. “Onthou, die meel mag nie met suurdeeg gaargemaak word nie. Ek gee dit aan die priesters as hulle deel van die vuuroffers wat vir my gebring word. Dit is ’n besonder heilige offer, net soos die sonde-offer en die skuldoffer.
18. Enigeen van Aäron se manlike afstammelinge mag in elke geslag van die graanoffer eet. Dit is ’n vaste instelling. Dit is vir altyd hulle deel van die vuuroffers wat aan die Here gegee word. Wie of wat ook al aan hierdie kos raak moet geheilig wees.”
19. En die Here het vir Moses gesê:
20. “Op die dag waarop Aäron en sy seuns gesalf word, moet hulle ’n graanoffer vir die Here bring: twee kilogram meel, die een helfte vir die offer in die oggend, die ander helfte vir die offer in die aand.
21. Dit moet met olyfolie op ’n plaat gebraai word en dit moet in stukkies gebreek word. Dit is die graanoffer wat jy moet bring. Dit sal aangenaam vir die Here wees.
22. Soos wat die seuns hulle vaders as hoëpriesters opvolg, moet hulle in hulle amp bevestig word deur hierdie offer te bring op die dag waarop hulle gesalf word. Dit is die Here se deel en moet heeltemal verbrand word.