19. As jy besluit om die gewyde grond los te koop, moet jy die waarde van die grond soos bepaal deur die priester betaal, plus twintig persent.
20. As jy besluit om die grond nie los te koop nie, of die priesters het die grond reeds aan iemand anders verkoop, kan dit nie meer losgekoop word nie.
21. As die grond gedurende die Jubeljaar losgekoop is, is dit heilige grond wat spesiaal vir die Here afgesonder is. Dit word dan die eiendom van die priesters.
22. “As jy ’n stuk grond aan die Here wy wat nie deel is van jou familiegrond nie,
23. moet die priester die waarde daarvan bepaal op grond van die aantal jare tot die volgende Jubeljaar. Jy moet dan die waarde van die grond nog daardie dag betaal. Dit word die eiendom van die Here.
24. In die Jubeljaar sal die grond dan teruggaan na die oorspronklike eienaar toe van wie jy dit gekoop het.
25. “Al die waardebepalings moet gedoen word volgens die standaardgewig van die heiligdom.
26. “Julle mag nie die eersteling van ’n koei of skaap aan die Here wy nie omdat die eersteling al klaar aan die Here behoort.
27. As dit egter die eersteling van ’n onrein dier is, mag julle dit loskoop deur aan die priester die waarde daarvan te betaal, plus twintig persent. As julle dit nie loskoop nie, mag die priester dit verkoop aan iemand anders teen sy vasgestelde waarde.
28. Enigiets wat spesiaal afgesonder is aan die Here, of dit nou ’n persoon, ’n dier of ’n stuk grond is, mag nooit verkoop of losgekoop word nie. Enigiets wat op dié manier vir die Here afgesonder is, behoort aan Hom.
29. ’n Persoon wat spesiaal afgesonder is vir die Here om geban te word, mag nie losgekoop word nie. So ’n persoon moet doodgemaak word.
30. “’n Tiende van die opbrengs van die land, of dit graan of vrugte is, behoort aan die Here en moet vir Hom as heilig afgesonder word.