8. Hy moet die heilige lot werp om te bepaal watter bok vir die Here geoffer gaan word en watter een die sondebok gaan wees.
9. Aäron sal die bok wat as ’n sonde-offer geoffer moet word, vir die Here bring.
10. Die bok wat die sondebok moet wees, moet bly leef. Wanneer die bok die woestyn in gestuur word, sal dit versoening bring vir die volk.
11. “Dan sal Aäron die jong bul as ’n sonde-offer vir homself en sy huis bring. Nadat hy die bul vir die sonde-offer geslag het,
12. moet hy ’n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Dan moet hy twee hande vol welriekende wierook vat en met die vuurpan en wierook agter die voorhangsel ingaan.
13. Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy die wierook op die gloeiende kole neersit sodat ’n wolk van wierook oor die deksel van die ark kan opstyg. Die deksel van die ark is die plek van versoening en dit rus op die ark van die verbond. As hy hierdie instruksies nakom, sal hy nie sterf nie.
14. Dan moet hy sy vinger in die bloed van die bul druk en dit voor die versoeningsdeksel sprinkel en daarna sewe keer teen die voorkant van die ark.