31. Een is ’n sonde-offer en die ander is ’n hele brandoffer wat saam met die graanoffer gebring word. Op dié manier sal die priester in die teenwoordigheid van die Here versoening doen vir die persoon wat gereinig is.
32. Hierdie is die instruksies vir die reiniging van dié wat herstel het van ’n aansteeklike velsiekte, maar wat dit nie kan bekostig om die normale offers wat vereis word vir die reiniging te bring nie.”
33. Toe het die Here vir Moses en Aäron gesê:
34. “Wanneer julle aankom in Kanaän, die land wat Ek aan julle as ’n erfdeel gee, kan Ek sommige van julle huise met ’n besmetlike swam besmet.
35. Die eienaar van so ’n huis moet dan na die priester toe gaan en sê: ‘Dit lyk of my huis ’n soort swamsiekte het.’
36. Hy moet die huis leegmaak voordat die priester die huis ondersoek, anders word alles in die huis onrein verklaar. Dan sal die priester ingaan en die huis ondersoek.
37. As hy helder groen of rooierige gate in die mure van die huis vind en dit lyk asof die besmetting dieper is as net die oppervlakte van die muur,
38. moet hy die huis verlaat en dit sewe dae lank toesluit.
39. Op die sewende dag moet die priester vir nog ’n ondersoek terugkeer. As die swamme teen die mure van die huis versprei het,
40. moet die priester bevel gee dat die besmette stene verwyder word. Die besmette materiaal moet dan in ’n gebied buite die stad wat as onrein aangedui is, weggegooi word.
41. Al die binnemure van die huis moet goed afgeskraap word en die afskraapsels moet in die onrein gebied buite die stad gegooi word.