Levitikus 11:7-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. ’n Vark mag ook nie geëet word nie, want al het dit gesplete hoewe, herkou ’n vark nie.

8. Julle mag nie van die vleis van hierdie diere eet of aan hulle karkasse raak nie. Hulle is onrein vir julle.

9. “Wat die seediere betref, mag julle alles eet wat vinne en skubbe het, of dit nou in vars water of in sout water voorkom.

10. Seediere wat nie beide vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie. Julle moet hulle verafsku.

11. Hulle sal altyd vir julle verbode wees. Julle mag nooit hulle vleis eet of selfs aan hulle dooie liggame raak nie.

12. Ek herhaal, enige seedier wat nie beide vinne en skubbe het nie, is ten strengste verbode vir julle.

13. “Dit is die voëls wat julle nooit mag eet nie omdat hulle afskuwelik is vir julle: die arend, die aasvoël, die visvalk,

14. verskillende valksoorte,

15. al die kraaisoorte,

16. die volstruis, die nagvalk, die seemeeu en roofvoëls van verskillende soorte,

17. die klein uil, die visvanger, die groot uil,

18. die wit uil, die pelikaan, die aasvreter,

19. die ooievaar, verskillende soorte reiers, die hoep-hoep en die vlermuis.

20. “Alle insekte met vlerke wat op die grond kruip, is vir julle verbode.

21. Julle mag wel dié met vlerke eet wat met hulle agterpote spring.

22. Dit sluit in alle soorte sprinkane en krieke. Van hulle mag julle eet.

23. Alle ander insekte met vlerke wat loop of kruip, is verbode vir julle.

24. “Sommige diere maak julle onrein. As julle aan hulle karkasse raak, is julle tot die aand toe onrein.

25. As jy die karkas van so ’n onrein dier moet verwyder, moet jy dadelik jou klere was en sal jy tot die aand toe onrein wees.

Levitikus 11