16. Sommige Fariseërs het opgemerk: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie.” Van die ander het egter gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?” Onder hulle het hewige verdeeldheid ontstaan.
17. Weer ’n keer sê hulle toe vir die blinde: “En wat sê jý oor hom? Hierdie man wat kwansuis jou oë oopgemaak het?”Hy het geantwoord: “Hy is ’n profeet.”
18. Die Joodse leiers het steeds nie geglo dat hy blind was en nou kon sien nie, totdat hulle die ouers van die man wat nou kon sien, geroep
19. en vir hulle gevra het: “Is hy julle seun van wie julle gesê het dat hy blind gebore is? Hoe het dit gebeur dat hy nou sien?”
20. “Ons bevestig dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord.
21. “Hoe hy egter nou sien, weet ons nie. Wie sy oë oopgemaak het, weet ons ook nie. Vra hom liewer self; hy is oud genoeg; hy kan namens homself praat.”
22. Sy ouers het hierdie dinge gesê omdat hulle bang was vir die Joodse leiers. Die Joodse leiers het toe reeds onder mekaar beraadslaag en besluit dat iemand wat bely dat Jesus die Messias is, uit die sinagoge geban moes word.
23. Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg, vra hom self.”
24. Die Jode het die man wat blind was, vir ’n tweede keer nadergeroep en vir hom gesê: “Gee erkenning aan God; ons weet dat hierdie man ’n sondaar is.”
25. Maar hy het geantwoord: “As hy ’n sondaar is, weet ek dit nie. Een ding weet ek wel: Ek wat blind was, sien nou!”
26. Daarop het hulle vir hom gesê: “Wat het hy vir jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?”
27. Hy het hulle geantwoord: “Ek het julle reeds vertel, maar julle het nie geluister nie. Om watter rede wil julle dit weer hoor? Julle wil tog sekerlik nie ook dissipels van hom word nie?”
28. Hulle het hom uitgeskel en gesê: “Jý is ’n dissipel van daardie man. Óns is dissipels van Moses.
29. Ons weet definitief dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons het geen idee waarvandaan hy kom nie.”
30. Die man wat blind was, sê toe vir hulle: “Dis tog merkwaardig. Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, maar hy het my oë oopgemaak.
31. Ons weet goed dat God nie na sondaars luister nie, maar as iemand godvresend is en sy wil uitvoer, luister God na só ’n persoon.
32. Van ewigheid af is nog nooit gehoor dat enigiemand die oë van een wat blind gebore is, oopgemaak het nie.