28. Jesus het daarop vir hulle gesê: “Eers as julle My, die Seun van die Mens, verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is; en dat Ek uit my eie niks doen nie, maar net praat soos die Vader My onderrig het.
29. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie verlaat nie omdat Ek altyd die dinge doen waarvan Hy hou.”
30. Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het daar baie mense in Hom begin glo.
31. Toe het Jesus vir die Jode wat tot geloof in Hom gekom het, gesê: “As julle in ’n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers;
32. en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.”
33. Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die afstammelinge van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe sê jy dan: ‘Julle sal bevry word’?”