Johannes 7:37-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

37. Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As jy dors is, kom dan na My toe en drink.

38. Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’”

39. Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang. Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

40. Die mense uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het opgemerk: “Hierdie man is regtig die Profeet.”

41. Ander het gesê: “Hierdie man is die Messias.” En nog ander het gesê: “Die Messias kom tog nie uit Galilea nie?

42. Het die Skrif dan nie gesê dat die Messias uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid, sou kom nie?”

43. Onder die skare het daar toe verdeeldheid oor Jesus gekom.

44. Sommige van die mense het Hom selfs probeer arresteer, maar niemand het aan Hom geraak nie.

45. Gevolglik het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan en dié het vir hulle gesê: “Waarom het julle Hom nie saamgebring nie?”

46. Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het ’n mens só gepraat soos hierdie man nie.”

47. Die Fariseërs antwoord hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie?

48. Het iemand uit die geledere van die leiers of uit die Fariseërs miskien tot geloof in Hom gekom?

49. Nee, dit is net hierdie skare mense wat nie vertroud is met die wet nie; vervloek is hulle!”

Johannes 7