11. Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana, in Galilea, gedoen. Hy het sy Goddelike heerlikheid op só ’n manier sigbaar gemaak, en sy dissipels het in Hom begin glo.
12. Hierna het Jesus, sy ma, broers en dissipels na Kapernaum toe vertrek waar hulle vir ’n kort tyd gebly het.
13. Dit was naby die tyd van die Paasfees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan.
14. In die tempelgebied het Hy die smouse met hulle beeste, skape en duiwe aangetref, asook die geldwisselaars by hulle tafels.
15. Met toutjies het Jesus toe ’n sweep gevleg en almal uit die tempelgebied verjaag, ook die skape en beeste. Hy het die geldstukke van die geldwisselaars op die grond uitgegooi en hulle tafels omgekeer.